Wanneer mens jonk is, voel dit asof jy eindelose tyd en energie tot jou beskikking het. Siekte en dood is gebeure waaraan jy selde dink. Kenners waarsku egter daarteen.
Benewens aansluiting by ‘n mediese fonds en pensioenfonds (wat dikwels deel van ‘n werkgewer se vergoedingspakket uitmaak), is jong werkendes geneig om enige verdere finansiële beplanning uit te stel tot wanneer hulle ouer is.
” In werklikheid sal dit jongmense baat om so gou moontlik te begin voorsiening maak vir die toekoms,” sê Danelle van Heerde, hoof van adviesinstrumente en prosesse by Sanlam.
Sy deel haar voorstelle oor belangrike finansiële besluite wat jy moet oorweeg wanneer jy jonk is:
- Stel ‘n testament op en neem lewensversekering uit
Volgens Danelle is dit twee kritieke finansiële oorwegings wat jongmense dikwels vir later los, dalk omdat dit ons met ons eie sterflikheid konfronteer ─ iets waaraan mens liefs nie wil dink terwyl jy nog jonk is nie. Maar die realiteit van die lewe vertel ‘n ander verhaal. Om ‘n testament as ‘n onnodige administratiewe oefening te beskou, of die uitneem van lewensversekering vir later te los, kan jou duur te staan kom.
Enigiemand wat bates besit of skuld het (ongeag hoeveel), moet ‘n testament hê. As jy sonder ‘n testament sterf, sal jy geen sê hê oor hoe jou bates verdeel moet word nie en ook nie hoe jou skuld (as jy ‘n motor of enige eiendom besit) bestuur moet word nie.
Om sonder enige lewensversekering te sterf, kan beteken dat jou gesin finansieel gaan swaarkry, veral as jy die broodwinner is en daar kinders is om in ag te neem. Lewensdekking wat op ‘n jonger ouderdom uitgeneem word, beteken laer premies en minder uitsluitings, sê Danelle.
- Neem inkomstebeskerming uit
Jongmense in hulle twintiger- en vroeë dertigerjare ervaar dikwels ‘n gevoel van onoorwinlikheid. Tog is inkomstebeskerming iets waaraan juis dán ernstige aandag moet gee, waarsku Danelle. “Die grootste enkele risiko vir enige jong werkende is die onvermoë om inkomste te verdien.”
Wat gaan jy doen indien jy op 25, met meer as 40 jaar van werk wat voorlê, permanent ongeskik raak vir werk en skielik nie meer inkomste kan verdien nie? Voeg studielenings, enige ander skuld, jou huwelik en kinders by die scenario, en die belangrikheid daarvan om dekking uit te neem om jou inkomste te beskerm, word duidelik.
As jy voldoende dekking het en jy die vermoë verloor om inkomste te verdien, tree jou voordele outomaties in werking en jy ontvang ‘n maandelikse bedrag of ‘n enkelbedrag wat jou sal toelaat om op jou liggaamlike en emosionele welstand te fokus.
- Maak seker dat jy die nodige dekking teen siekte het
Dis ewe belangrik dat jy as jongmens seker maak jy en jou gesin geniet beskerming, vir geval jy ‘n ernstige siekte opdoen en vir ‘n tyd lank nie kan werk nie. As jy die talle ernstige siektes in oorweging neem en weet dat jy byvoorbeeld ‘n familiegeskiedenis van kanker het, is dit die moeite werd om vroeër eerder as later in voldoende siektedekking te belê.