Renette Zeelie: 018 786 1882 | Charl Oosthuizen: 083 377 1441 | Johan Potgieter: 072 928 5380 admin@ultrafin.co.za

Buitelandse beleggings is ʼn verstandige deel van enige goed gediversifiseerde beleggingsplan

by | Oct 11, 2017 | Blog, Financial Planning | 0 comments

Buitelandse beleggings is ʼn verstandige deel van enige goed gediversifiseerde beleggingsplan, skryf Vimal Chagan, Afdelingsdirekteur vir Kleinhandelbeleggings by Liberty.

Die beleggingsaanbeveling om buitelandse blootstelling by jou portefeulje in te sluit, was nog altyd geldig, maar met die afgradering van Suid-Afrika se buitelandse skuld tot benede beleggingsgraad en ʼn swak ekonomie, word die argument vir buitelandse beleggings versterk.

Suid-Afrikaners behoort gebruik te maak van globale beleggingsgeleenthede, om so te deel in die groei van die wêreld se winsgewendste maatskappye en industrieë, en om voordeel te trek uit beleggings in sterk buitelandse geldeenhede.

Om in een streek te belê – in hierdie geval, die Suid-Afrikaanse finansiële markte – kan waarde beperk of selfs vernietig, aangesien die meeste sektore van die ekonomie in dieselfde besigheidsiklusse sake doen, en dieselfde druk – soos inflasie, wisselvalligheid in die geldeenheid en politieke onsekerheid – ervaar.

Oor die afgelope drie jaar sou buitelandse diversifikasie grootliks bygedra het tot ʼn belegger se oorhoofse beleggingsprestasie. Byvoorbeeld, oor die drie jaar wat in Junie 2017 geëindig het, het die JSE se indeks van alle aandele ʼn opbrengs van 3,4% per jaar in rand behaal, vergeleke met die 12,3% per jaar in randterme van die MSCI-wêreldindeks vir alle lande.

Suid-Afrikaners het dalk reeds ʼn mate van buitelandse blootstelling deur die spaargeld wat in hul maatskappypensioenfonds belê is. Maar, hulle wil moontlik ook hul eie spaargeld in buitelandse geleenthede belê, in plaas daarvan om dié beleggings te beperk tot Suid-Afrikaanse aandele, effekte of geldmarkte.

Dit kan gedoen word deur fondse wat in rand verhandel en in die buiteland belê, of deur die benutting van jou buitelandse beleggingsvergunning. Suid-Afrikaners kan R1 miljoen per jaar in die buiteland belê, sonder buitelandse valutabeheergoedkeuring en ʼn verdere R10 miljoen met die goedkeuring van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).

Dink strategies, wees gedissiplineerd en beplan vir buitelandse sukses

Jou besluit om in die buiteland te belê, moet inpas by jou oorhoofse finansiële plan. Om die regte oomblik vir ʼn geldeenheid te probeer bepaal, is nooit ʼn volhoubare beleggingstrategie nie, aangesien die bykans onmoontlik is om die rand se korttermynbewegings te voorspel. Volg liewer ʼn gedissiplineerde benadering en hou by jou plan, eerder as om op ʼn politieke gebeurtenis of op die korttermynbeweging van die rand te reageer.

Jou buitelandse vereistes sal verskil na gelang van jou beleggingsdoelwitte. Daar is nie ʼn vaste reël rakende die persentasie wat in die buiteland belê moet word nie. Selfs al het talle finansiële kenners se aanbevelings rondom die vlak van 30-40% gewissel, behoort die persentasie wat in die buiteland belê word die resultaat te wees van ʼn kragtige finansiële plan wat deur ʼn ervare finansiële adviseur ontwikkel is.

Indien jy ʼn langtermynbelegging maak, en buitelandse blootstelling is ʼn deel van jou diversifikasiestrategie, kan jy die geld in fases oor ʼn tydperk oorsee plaas, of ʼn maandelikse bydrae maak tot ʼn plaaslike fonds met buitelandse blootstelling. Indien jou bedoeling is om oor vyf jaar te emigreer, of om jou kinders in die buiteland te laat onderrig, kan die bedrag wat jy in die buiteland wil belê hoër wees, en mag dit nodig wees om fondse eerder vroeër as later buiteland toe te skuif.

Moenie net in kontant bly nie

Ongelukkig hou baie mense hul buitelandse beleggings doodeenvoudig in kontant. Hulle hoop dat die verswakking van die rand voldoende sal wees om ʼn mate van opbrengs te lewer, óf hulle sien die buitelandse fondse alternatiewelik as noodfondse, eerder as ʼn belegging. Met die rentekoerse van die meeste harde valuta-rekeninge op bykans zero, verloor jy ʼn beduidende bedrag aan groei. Jy kan ook nie daarop staatmaak dat die rand net in een rigting sal beweeg nie. In die eerste agt maande van 2017 het die rand met 5,3% teen die VSA$ versterk, ten spyte van ons swak ekonomiese data en politieke onsekerheid.

Talle beleggers is onseker oor waar hulle hul buitelandse geld kan belê, tog is daar talle buitelandse fondse wat deur die Raad op Finansiële Dienste goedgekeur is en in Suid-Afrika bemark kan word. Hierdie fondse moet aan dieselfde standaarde voldoen as dié wat vir plaaslike kollektiewe beleggingskemas geld. Dit sluit Stanlib in wat ʼn reeks plaaslike fondse, sowel as fondse wat in die buiteland gevestig is, aanbied. Liberty bied ʼn buitelandse uitkeerpolisproduk (Offshore Endowment product) aan, waardeur beleggers in staat gestel word om in Stanlib en die Stanlib MultiManager funds te belê.

Indien jy in ʼn goed gediversifiseerde globale fonds belê, verwyder jy ook die risiko van ʼn enkelgeldeenheid. Beleggers wat hul geld voor Junie 2016 in Britse pond geplaas het, het ervaar dat die relatiewe waarde van hul belegging met 25% gedaal het. Deur in ʼn globale aandelefonds te belê, kry jy blootstelling aan ʼn verskeidenheid geldeenhede, selfs indien die fonds in een geldeenheid, soos Britse pond of VSA-dollar, verslag doen.

Byvoorbeeld, beleggers in ʼn globale portefeulje wat in Britse pond verslag doen, sou ervaar het dat hul portefeulje beduidend gegroei het toe die pond gedepresieer het, aangesien die onderliggende beleggings oor ander geldeenhede versprei sou gewees het.

Gesels met jou finansiële adviseur oor die reeks buitelandse beleggingsgeleenthede wat Stanlib en die Liberty Offshore range bied. Die Liberty Offshore-produk is ʼn uitkeerpolis wat die ideale struktuur is vir individue met ʼn hoë nettowaarde, as gevolg van die gunstige belastingposisie van groei binne die fonds. Die fonds bly ook in die buiteland by afsterwe en word nie deel van jou boedel vir die doel van eksekuteursfooie nie. Die struktuur maak voorsiening dat begunstigdes direk betaal kan word. ʼn Buitelandse testament is dus onnodig.

Source: http://yourlife.liberty.co.za/

Ultrafin Logo Large Scale Transparent

UltraFin Hoofkantoor

Renette Zeelie

Tel: 018 786 1882

Fax: 086 617 8136

Email: admin@ultrafin.co.za

Contact Form