Renette Zeelie: 018 786 1882 | Charl Oosthuizen: 083 377 1441 | Johan Potgieter: 072 928 5380 admin@ultrafin.co.za

Afgetree? Vermy die 5 geldfoute

by | May 2, 2017 | Blog, retirement | 0 comments

Beplanning vir ’n relatief stresvrye oudag is ’n voortdurende proses. Trouens, verstandige beleggingsbesluite raak net nog belangriker wanneer jou aftrede eindelik aanbreek.

Afgetredenes moet ’n duidelike strategie hê vir die belegging van hul geld op so ’n wyse dat dit hulle in al die jare ná aftrede sal onderhou,” benadruk Preenay Sathu, kanaalhoof van FNB Financial Advisory. Mense se omstandighede verskil, daarom sal hul post-aftrede-strategie ook verskil, sê hy.

“Die grootste algemene fout is egter om glad nie ‘n plan te hê nie en bloot aan te neem jou beskikbare fondse sal voldoende wees. Baie mense het ná aftrede geen ander inkomste buiten hul spaargeld nie… wat dalk nie genoeg gaan wees nie.”

Om moontlike duur misstappe met die strukturering vir jou beleggingsportefeulje ná aftrede te vermy, kan jy ’n behoorlik gekwalifiseerde finansiële adviseur raadpleeg wat jou ’n plan gegrond op jou individuele omstandighede kan help optrek.

Hier’s van die algemeenste foute wat afgetredenes moet pypkan:

Dink dis onnodig om verder te belê

Jy moet ’n voortdurende strategie ná aftrede hê om te verseker jou geld bly pal vir jou werk. As jy byvoorbeeld ’n deel van jou pensioengeld as ‘n enkelbedrag onttrek en die res in ’n lewende annuïteit los, kan jy dit oorweeg om van die geld wat jy onttrek het ook in ‘n ander beleggingsinstrument te sit. Vors ook adminfooie deeglik na om onaangename verrassings op die lang duur te voorkom.

Onvoldoende begrip van belastingsituasie ná aftrede

Jan Taks gaan jou helaas nie in jou vredige jare met rus laat nie. Aftrede stel jou nie outomaties van belasting vry nie. As jy byvoorbeeld ’n deel van jou pensioenfonds in ’n lewende annuïteit belê het, kan jou inkomste uit die annuïteit moontlik steeds belas word. Kry dus professionele raad oor hoe jy as afgetredene die belastingimplikasies van jou finansiële besluite tot ‘n minimum kan beperk.

Heg te veel waarde aan vriende en familie se raad

Die ingewikkelde aard van finansiële beplanning beteken dat eintlik net toepaslik gekwalifiseerde adviseurs raad daaroor behoort te gee. Moet dus liewer nooit die sienings van ’n vriend of familielid as feite beskou nie. Elke mens se situasie verskil en terwyl ’n bepaalde oplossing dalk vir een ou gewerk het, beteken dit nie dit gaan noodwendig vir die volgende ou werk nie. ’n Bona fide-finansiële adviseur behoort jou finansies deeglik te kan ontleed en ’n pasgemaakte plan vir jou te kan ontwikkel. Party mense dink hulle kan self regkom, maar tensy jy die regte kwalifikasies het, is die beste benadering stellig om wel self soveel moontlik oor geldsake te lees en leer dog steeds professionele bystand te soek.

Besnoei nie uitgawes na gelang van hul nuwe situasie nie

Maak seker jy begin jou uitgawes terugsny; omdat jy waarskynlik nie meer ’n gereelde inkomste het nie, moet jy maar liewer elke sent omdraai. Jy het dalk byvoorbeeld jou huis afbetaal, maar moet steeds besin oor hoeveel die instandhouding van jou eiendom jou vorentoe gaan kos. Julle kan ook oorweeg om in ‘n kleiner plek in te trek. Hersien dus uit die staanspoor jou begroting vir besnoeiingsgeleenthede.

Belê te konserwatief

Jy het jou hele beroepslewe lank hard gewerk en dis te begrype dat jy nou na ’n gerieflik oudag uitsien. Maar weereens moet jy ná aftrede steeds behoorlik aandag gee aan sommige kritieke besluit.  Veral wat betref die toewysing van jou beleggingsgeld om langtermyn-groei te verseker. ’n Beleggingsbenadering wat te konserwatief is, kan jou op die lang duur benadeel. Maak dus seker jou keuse van beleggingsbates laat ook genoeg ruimte vir groei.

“Selfs al voel jy jy het goed voorsiening gemaak vir jou aftrede, is dit nie die tyd om fokus te verloor nie. Faktore soos inflasie, mediese uitgawes en groeiende lewenskoste kan jou spaargeld wegkalwe, en dis dus noodsaaklik om ‘n langtermyn-uitkyk ná aftrede te handhaaf,” sê Preenay.

Source: Huisgenoot

Ultrafin Logo Large Scale Transparent

UltraFin Hoofkantoor

Renette Zeelie

Tel: 018 786 1882

Fax: 086 617 8136

Email: admin@ultrafin.co.za

Contact Form