Vir baie mense is die koop van korttermynversekering iets wat hulle nie noodwendig wil doen nie, maar verplig voel om te doen. Elke maand moet ‘n bedrag aan ‘n versekeraar betaal word en vir wat? Dikwels eis die polishouer nie vir maande of selfs jare nie. ‘n Mens wonder of hierdie geld dalk beter elders belê kan word.
Kyk liewer so daarna. As jy nié die nodige versekering het nie en die ongeluk tref jou – hetsy ‘n motorongeluk of ‘n inbraak by jou huis – sal jy uit jou sak uit moet betaal om jou motor te herstel of jou huishoudelike besittings te vervang. Dink net watter effek dít op jou finansies en beleggings in geheel sal hê, veral as jy duisende rande moet opdok.
Sommige mense verkies om die maandelikse premie eerder in hul eie spaarrekening te betaal en te hou vir die dag wanneer iets dalk mag gebeur. Daar is twee probleme met hierdie benadering. Eerstens word hierdie spaargeld gebruik wanneer ‘n mens geld nodig het vir onverwagte uitgawes.
Tweedens sal jy ‘n paar dekades moet spaar om byvoorbeeld jou huishoudelike inhoud te vervang indien jou huis afbrand.
Vir party mense kan selfs net die verlies van ‘n selfoon ernstige finansiële gevolge inhou. Nie net sal jy ‘n nuwe selfoon moet koop nie, maar dit kan ook jou besigheid benadeel as jy jou selfoon vir werksdoeleindes gebruik. Dit kan selfs ook die kwaliteit van jou lewenstyl beïnvloed.
Wanneer dit dus by korttermynversekering, of ten minste ‘n gebrek daaraan kom, kan baie min mense dit bekostig om daarsonder klaar te kom.
Wanneer jy besluit om jou besittings te verseker maak dit sin om daardie items wat jou die meeste sal kos om te vervang, eerste te verseker. Dit wat jy maklik self sal kan vervang hoef jy dus nie te verseker nie, of ten minste nie ten volle nie.
Begin by jou motor. Baie min mense het die nodige kontant om ‘n motor te vervang indien dit gesteel word of in ‘n ongeluk afgeskryf word. Die probleem is nog erger indien daar huurkoop uitstaande is op ‘n voertuig wat jy nie meer het nie. Selfs die herstelwerk na ‘n ongeluk kan jou duisende rande uit die sak jaag, en jy sal ook al die herstelwerk vir die ander party se motor moet betaal indien jy die ongeluk veroorsaak het.
Volgende op jou prioriteitslys behoort jou woning en die huishoudelike inhoud daarvan te wees. Dit kan jou ook duisende rande uit die sak jaag om televisiestelle, kameras en ander toerusting te vervang na ‘n inbraak.
Laastens kan jy dit begin oorweeg om daardie ‘ekstras’ soos byvoorbeeld duur sonbrille, rekenaars en spesifieke juweliersware te begin verseker.
Indien jy ‘n verlies ly, is dit belangrik om te onthou dat dit nie die moeite werd is om kort-kort vir elke klein item te eis nie. As jy jou motor stamp en die skade beloop ‘n paar honderd rand meer as jou bybetaling, dien dit geen doel om vir daardie bedrag te eis nie. So ‘n eis kan jou geen-eis bonus benadeel en dalk ook aanleiding gee tot ‘n verhoging in jou premie.
Om die eis proses makliker te maak is dit altyd ‘n goeie idee om bewyse van alle aankope te hou – veral wanneer dit by elektroniese goedere en juweliersware kom. Dit maak dit net makliker vir jou versekeraar om die gesteelde goedere te identifiseer en die vervangingswaarde daarvan te bepaal.
Selfs ‘n foto van ‘n item soos ‘n leerbaadjie of skildery kan as bewys ingedien word. As jy egter jou strokie weggegooi het en geen idee het van die waarde van ‘n item, sal jou versekeraar jou help om die nodige inligting bekom.