Renette Zeelie: 018 786 1882 | Charl Oosthuizen: 083 377 1441 | Johan Potgieter: 072 928 5380 admin@ultrafin.co.za

Die Landbounavorsingsraad (LNR) het sy eksterne inkomste verhoog en deur streng maatreëls sy uitgawes beperk.

by | Nov 6, 2014 | Blog, Insurance | 0 comments

Die Landbounavorsingsraad (LNR) het sy eksterne inkomste verhoog en deur streng maatreëls sy uitgawes beperk, maar sê hy word steeds deur onderfinansiering geknel.

Luidens die organisasie se jongste jaarverslag kon hy sy langdurige kontanttekort deur streng maatreëls omkeer. In die jaar tot 31 Maart het hy boonop sy eksterne inkomste tot ’n rekordbedrag van R466 miljoen verhoog. Mnr. Gabriel Maluleke, hoof finansiële beampte, skryf in die verslag dit was danksy die lewering van meer dienste aan regeringsdepartemente, veral die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming.

“Finansiering vir verbetering en opgradering van infrastruktuur en nuwe gebiede van navorsing bly egter ’n uitdaging,” skryf Maluleke. Volgens mnr. Shadrack Moephuli , hoof uitvoerende beampte en voorsitter, kon die LNR in die 2013/’14-boekjaar ondanks swak ekonomiese omstandighede sy funksies met die toegekende hulpbronne uitvoer. Kostebeheer en die heroorweging van die voorrang van projekte het dit moontlik gemaak.

“Die kostebeheermaatreëls is egter onvolhoubaar omdat dit ’n nadelige invloed op die vermoë van die organisasie het om oplossings vir landbouontwikkeling en ekonomiese groei te lewer.”

Moephuli sê hoewel die LNR in die boekjaar aansienlik meer geld ontvang het vir die hernuwing van infrastruktuur en vervanging van toerusting, bly dit onvoldoende. Die LNR het volgens hom steeds ’n groot agterstand en het na raming R480 miljoen in die mediumtermyn-uitgaweraamwerk (MTEF) nodig vir behoeftes rakende verouderde infrastruktuur, kapitaalvervanging en onderhoud. Die LNR word voorts steeds deur die nasionale vaardigheidstekort geraak.

Luidens die jaarverslag was die personeelomset vir die 2013/’14-boekjaar 3,57%, wat hoër is as die teiken van 3% maar laag vergeleke die marknorm. “Weens die gebrek aan kritiese massa van hoogs vaardige wetenskaplikes, ingenieurs en tegnici in Suid-Afrika, het elke bedanking in hierdie werkkategorieë ’n beduidende uitwerking op die organisasie se prestasie en vermoë om kritiese projekte na te streef.”

Die personeelomset vir navorsers is 6,53% en vir navorsingstegnici 5,85%. Die LNR het ‘n professionele ontwikkelingsprogram as teenvoeter begin en 280 studente is al hierby betrek. Ondanks die personeelomset het die organisasie se wetenskaplikes die teikens vir wetenskaplike artikels met portuurbeoordeling oortref deur dit in vyf jaar van 144 tot 302 te verhoog.

– Source: http://landbou.com/nuus/lnr-benodig-miljoene-vir-agterstand/

Ultrafin Logo Large Scale Transparent

UltraFin Hoofkantoor

Renette Zeelie

Tel: 018 786 1882

Fax: 086 617 8136

Email: admin@ultrafin.co.za

Contact Form