Noodsaaklike finansiële kennis vir elke jong volwassene

Noodsaaklike finansiële kennis vir elke jong volwassene

Om die volwasse wêreld te betree en grootmensbesluite te moet neem, kan wees soos om ‘n fietsresies met oefenwieletjies te probeer wen. Wanneer jy 18 word, kan jy skielik rekeninge open, kontrakte teken en skuld maak. Die mark is goed hiervan bewus en weet ook goed dat die meeste jong volwassenes nie toegerus is met die kennis om hierdie besluite met wysheid te neem nie. Dit is dus jou verantwoordelikheid om soveel raad as moontlik te kry en kennis op te bou. Hier is ‘n paar belangrike finansiële brokkies:

Maak slegs skuld indien dit werklik nodig is. Die beste manier om iets te koop, is kontant, selfs al moet jy vir ‘n ruk sonder die gesogte item klaarkom.

Jy hoef nie ryk te wees om geld te belê nie. Gebruik die bietjie wat jy het en belê dit in ‘n betroubare fonds waar jy spaargeld sal opbou en jou geld mettertyd rente sal trek en vermeerder.

Spaar! Maak seker dat jy elke maand iets wegsit, selfs al is dit ‘n klein bedraggie. Jy kan dalk net geld nodig kry vir ‘n noodgeval en hoef dan nie geld te leen om daarvoor te betaal nie.

Indien jy wel ‘n lening moet maak, moet jy so ver moontlik van leningwoekeraars af wegbly. Hulle rentekoerse is soms so hoog dat jy tot vier maal die oorspronklike bedrag oor ‘n lang tydperk sal terugbetaal. Praat met jou bank of ‘n finansiële adviseur en maak seker van ‘n lae rentekoers.

Spandeer minder geld op sosiale uitstappies. Jy kan jou geld beter bestee en meer spaar.

Dit is moeiliker om jou uit ‘n gat te kry as om jou daarin te kry. Indien die skuld wat jy maak jou nie help om meer geld te maak nie, is dit die moeite werd?

Leer hoe om met ‘n bankrekening te werk. Sommige jong mense weet nie hoe om hulle banksaldo te vertolk nie. Maak ook seker dat jy weet hoe om ‘n bankstaat te lees.

Jy moet weet hoe om ‘n realistiese begroting op te stel en daarby te hou. Indien jou uiteetgeld op is en jy net huurgeld oor het, moet jy genoeg selfbeheer hê om te weet dat jy nie jou huurgeld kan gebruik om mee te gaan eet nie. Roep jou ouers se hulp in. Hulle kan jou leer hoe om te bepaal hoeveel kosgeld of petrolgeld jy sal nodig hê per maand.

Verstaan die verskil tussen behoeftes en begeertes. Wanneer jou ouers vir jou sorg, betaal hulle vir alles wat jy nodig het en jy spandeer jou sakgeld op wat jy andersins begeer. Wanneer jy egter jou eie potjie moet krap, kan jy geneig wees om onnodige goed te koop en dan nie geld oorhê om te betaal waarvoor jy moet betaal nie.

Leer hoe om finansiële dokumente en kontrakte te lees en te verstaan.

Vind uit hoe om positiewe krediet effektief op te bou. Jy sal die een of ander tyd wel ‘n rekening moet open sodat die kredietburo kan bepaal of jy betroubaar is met afbetalings. Wanneer jy dan eendag ‘n huis of ‘n besigheid wil koop, sal jou positiewe rekord jou kanse vergroot om die koop te laat slaag.

Maak seker dat jy weet hoe om jou finansiële inligting veilig te hou en nie voor foefies te swig nie. Moenie jou bankbesonderhede aan elke Jan Rap en sy maat gee nie en weet watter verskaffers betroubaar is.

Moenie op jou eie probeer regkom nie, maar moet ook nie jou 18-jarige kamermaat as raadgewer aanstel nie. Indien jy onseker is, of wonder, roep die hulp van ‘n meer volwasse persoon in wat jou belange op die hart dra. Moet dus nie te trots wees om om hulp te vra nie.

Be the first to comment on "Noodsaaklike finansiële kennis vir elke jong volwassene"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*