Die voordele en verskillende leningskenmerke van Leningsopsies

Die voordele en verskillende leningskenmerke van Leningsopsies

Die meeste mense sal op die een of ander tydstip in hul lewens ‘n lening nodig kry – hetsy om in ‘n huis te belê, ‘n verloofring te koop of om ‘n klein besigheidjie mee te begin. Maar wees gewaarsku: nie alle lenings is dieselfde nie.

As jy weet wat jou leningsopsies is, sal dit jou help om die regte besluit te neem. Gebruik ‘n bietjie tyd om leningsopsies, hul voordele en verskillende leningskenmerke te verstaan en te vergelyk.

Persoonlike lenings laat jou toe om óf ‘n lang óf ‘n kort terugbetalingstydperk te kies. ‘n Korttermyn- persoonlike lening is ‘n goeie opsie as jy ‘n klein kontantinspuiting nodig het. Hierdie lenings dra egter gewoonlik ‘n hoër rentekoers. ‘n Langtermynlening is vir groter bedrae en maak voorsiening vir afbetaling oor verskeie jare. Dit beteken kleiner paaiemente en ‘n laer rentekoers.

‘n Vastekoerslening verseker jou dat die rentekoers nie tydens die leeftyd van die lening sal fluktueer nie. Hierdie opsie gee jou gemoedsrus omdat jy weet jou maandelikse terugbetalings nie sal verander nie.

Betaaldaglenings is korttermynlenings wat gewoonlik binne 28 dae terugbetaal moet word. Hierdie lenings is gewoonlik baie duur en as jy ‘n betaling oorslaan, sal jy meer geld moet betaal. Dit is ‘n voorbeeld van slegte skuld.

Skuldkonsolidasielenings is ‘n eenvoudige manier om ‘n klomp skulde af te betaal deur dit in een lening te kombineer. Jou bank sal jou skuld betaal en dan moet jy jou bank terugbetaal, wat beteken dat jy een maandelikse paaiement aan die bank sal maak, dikwels teen ‘n beter rentekoers.

Besigheidslenings is soortgelyk aan persoonlike lenings, behalwe dat die lening in die naam van ‘n besigheid uitgeneem word. ‘n Groot verskeidenheid besigheidslenings is beskikbaar in suid-Afrika, so doen navorsing oor terugbetalingstydperke en rentekoerse. Dit is ‘n goeie opsie vir die begintyd van ‘n nuwe besigheid.

Voertuigfinansiering is die beste opsie wanneer dit kom by die koop van ‘n nuwe kar. Jy kan kies tussen ‘n vaste rentekoers en ‘n gekoppelde rentekoers, wat aan die land se heersende rentekoers gekoppel is. In die geval van ‘n gekoppelde rentekoers kan jy verwag dat die terugbetalings op jou kar van tyd tot tyd sal fluktueer. Finansieringstydperke wissel gewoonlik tussen 12 en 72 maande. Hoe langer die finansieringstydperk, hoe laer die paaiemente. Daar is ook die opsie van ‘n “ballonbetaling”, waar jy ‘n finale enkelbedrag betaal wanneer jy na aan die einde van jou leningstydperk kom. Dit maak die maandelikse paaiemente kleiner maar kan jou op die ou einde meer kos – dit sal wys wees om eers navorsing te doen.

Huislenings kan pasgemaak word vir jou behoeftes en verskeie opsies is by huisleningverskaffers beskikbaar. Sommige hiervan sluit die volgende in:

Vastekoershuislening: ‘n Vastekoerslening soortgelyk aan die vastekoerslening hierbo, beskerm die lener teen stygende rentekoerse.

100%-huislening: Gewild by eerstekeerhuiskopers en ‘n deposito is nie nodig vir hierdie lening nie.

Veranderlike huislening: As die rentekoers fluktueer, doen die terugbetaling dit ook.

Boperkhuislening: Dit is dikwels moeilik om vir hierdie tipe huislening te kwalifiseer ─ dit bied die voordele van ‘n veranderlike huisleningsrentekoers en beskerm jou teen stygende rentekoerse deur middel van ‘n vooraf bepaalde “boperk”-koers.

Dalende huislenings: Beskikbaar vir individue naby aftreeouderdom; by hierdie tipe huislening daal die rentekoers elke jaar en selfs elke ses maande.

Lenings kan ‘n belangrike rol speel in die uitbreiding van ‘n persoon se batebasis en toegang tot verskillende tipes goedere en dienste. Dit is egter uiters belangrik dat verbruikers moet verstaan hoe hulle gestruktureer is, wat die tydperke en rentekoerse is, en hoe belangrik dit is om ‘n goeie kredietgeskiedenis te handhaaf.

Bron: https://finansies.solidariteit.co.za/

Be the first to comment on "Die voordele en verskillende leningskenmerke van Leningsopsies"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*