Bespaar so op jou motorversekering.

Bespaar so op jou motorversekering.

Die vakansie is nou wel verby, maar die risiko vir ’n ongeluk bly hoog.

Wat nog meer ontstellend is, is dat net 35 persent van alle motoriste in Suid-Afrika die een of ander vorm van versekering het.

Bekostigbaarheid is een van die hoofredes – as geldsake knyp, is dekking dikwels een van die eerste dinge wat uit die maandelikse begroting geskrap word.
Graham Craggs, woordvoerder van Budget Insurance, sê: “Die waarskynlikheid dat jy met ’n onversekerde motoris in ’n ongeluk betrokke sal wees, is besonder groot, en dit verhoog die kans op geldelike verlies vir albei
partye aansienlik.”

Hier volg nuttige maniere om op versekering te bespaar sodat jy nie jou dekking hoef in te boet nie.
1. Wees op die uitkyk vir spesiale aanbiedinge Versekeraars kan van tyd tot tyd spesiale aanbiedinge hê wat jou kan help bespaar.

2. Verseker jou motor vir sy werklike waarde Eienaars van ouer voertuie moet seker maak hulle oorverseker dit nie. Sommige versekeraars neem die voertuie se verminderde waarde in ag, maar nie almal nie. Maak doodseker jou voertuig is vir sy werklike waarde gedek.

3. Moenie dekking dupliseer nie As jou motorversekeringsmaatskappy gratis padbystand bied, hoef jy nie by jou mediese fonds dieselfde voordeel te kies nie. En as jou selfoon onder jou huisinhoud verseker is, hoef jy nie afsonderlik vir dekking daarvoor te betaal nie.

4. Beter veiligheid Die premie vir jou motorversekering word volgens jou risikoprofiel bereken. Dié word gegrond op onder meer jou adres, die soort motor wat jy bestuur en die veiligheidsmaatreëls wat jy ingestel het. Jy kan jou versekeringspremie verlaag as jy byvoorbeeld jou motor met addisionele veiligheidskenmerke toerus, soos ’n opsporing- of alarmstelsel.

5. Moenie onnodig eis nie Gebruik jou versekering net vir werklike rampspoedige gebeure wat tot onverwagte groot verliese lei. Moenie eis vir kleinighede wat jy uit jou eie sak kan dek nie. Jou versekeringsverskaffer gaan jou premie verhoog as jy vir elke liewe skrapie eis, want dit dui daarop dat jy ’n hoër risiko inhou. Eise gaan ook jou kontantterugbonus raak (indien van toepassing).

6. Verhoog jou bybetaling Jy kan elke maand geld op jou versekeringspremie spaar deur die bybetalingsbedrag in die geval van ’n eis te verhoog. Natuurlik wil ’n mens nie graag ’n groot som geld betaal wanneer jy eis nie, maar as jy die laagste bybetaling kies, kan jou premie te duur raak. Die beste beleid is om ’n balans te vind waar jy ’n redelike
premie betaal en jou bybetaling nie so hoog is dat jy dit nie sal kan bybring as jy moet eis nie.

7. Kombineer jou polisse Jy sal vir afslag in aanmerking kom as jy jou motor- en ander versekering by dieselfde verskaffer uitneem.

8. Hersien jou dekking gereeld Jou versekeringsbehoeftes kan verander. Jy het dalk nie omvattende dekking nodig vir ’n ouer of tweede voertuig nie en jy kan versekering oorweeg met beperkte voordele, soos derdeparty-, brand- en diefstaldekking.

9. Maak seker jou besonderhede is bygewerk As jy jou voertuig vir privaat gebruik verseker, kan jy dit nie vir besigheid gebruik nie. En as jy dit nou oornag in ’n veiliger omgewing soos ’n toesluitmotorhuis parkeer, kan jy
geld spaar. Stel dus jou versekeraar in kennis. Jy moet hulle ook laat weet as jy nader aan die huis begin werk en ook as jy by die werk in die kelderverdieping parkeer. Dit alles kan ook tot ’n laer premie lei.

About the Author

Charl Oosthuizen
Independent Financial Advisor / Onafhanklike Finasiële Adviseur Ultrafin Finansiële Oplossings (Edms) Bpk / Financial Solutions (Pty) Ltd FSP 35757 Cell: 083 377 1441 | Fax: 086 617 8137 | Tel: 086 111 4602 Besturende Direkteur. Charl is sedert 1990 betrokke by versekring. Verantwoordelik vir oorhoofse bestuur van maatskappy, met spesifieke fokus op die Kort Termyn Afdeling as ‘n boer in murg en been lê die landbou vir Charl baie na aan die hart. Dus vorm Agri Versekring en gepaardgaande NIS produkte ‘n belangrike deel van Ultrafin se Potefeulje.

Be the first to comment on "Bespaar so op jou motorversekering."

Leave a comment

Your email address will not be published.


*